Fisioterapie

Lettie Fouché-skool beskik oor van die beste fisioterapie fasiliteite in die Vrystaat. Albei terapie lokale is baie ruim en kan met gemak ‘n groep van 15 kinders hanteer. Daar is ook ‘n gimnasium en voldoende toerusting, bv balle, rollers, gewigte, trapmeule, ens.
Lettie Fouché-skool het tans 2 fisioterapeute in diens wat albei opgelei is in neuro-ontwikkelingsterapie. Kinders met ontwikkelingsagterstande, serebrale gestremdheid en ander fisieke probleme, bv skoliose, ontvang fisioterapie op ‘n individuele basis. Hierdie kinders word geëvalueer en ‘n persoonlike behandelingsplan word vir elke kind uitgewerk. Die hoofdoelwit van fisioterapie is om die kind te help om sy hoogste potensiaal te bereik, bv om te kan loop. Die fisioterapeute gee ook die nodige ondersteuning ten opsigte van toepaslike apparaat en hulpmiddels, bv rolstoele, looprame en spalke.

Die fisioterapeute bied ook groepklasse aan om die jonger kind se groot motoriese vaardighede te bevorder. Aspekte waaraan aandag gegee word sluit in: balans, koördinasie, spierkrag, fiksheid en uithouvermoë.

Die terapeute het ‘n motoriese ontwikkelingsprogram vir die skool uitgewerk wat deur die onderwyspersoneel gebruik word om weekliks motoriese aktiwiteite met die kinders te doen. Motoriese ontwikkeling is ‘n belangrike aspek wat deur die Departement van Onderwys vereis word en deel uitmaak van die nasionale kurrikulum.